Bemarkingsfoefies tref die dagga stokperdtjie

Ek dink soms dat die vlak van spesialisering belaglik raak.

Nou die dag was ek in 'n kwekery om 'n snoeisker te koop, toe ek merk dat jy nou dagga-spesifieke grond te koop kry; 'n 20kg sak vol waarskynlik heel gawe potgrond, met 'n vrolike en onmiddelik herkenbare waaierblaarvormige etiket. En al dit teen slegs drie keer die prys van gewone potgrond. Natuurlik doen dit nie opsigself skade nie, maar ek dink dis dalk 'n onnodige produk, en 'n man kan dalk in die slaggat trap waar jy geld spandeer wat straks eerder op 'n ABBA CD uitgegee moes gewees het.

Dis nou een jaar en 'n bietjie vandat die hof ons die troffeltjie in die hand gestop het, en opdrag gegee het om aarde te bewerk en vrugbaar te wees. Ons kan nou, met die komplimente van die grondwet, dagga kweek in privaat areas, en vir persoonlike misbruik. Gevolglik het menige Suid Afrikaner met hernude belangstelling sy agterplaas betrag, en ons het ons gehaas na die internet om die presiese tuinboukundige grille van die daggaplant te bestudeer. Ekself was ook nie immuun teen hierdie nuutjie nie, en my eie Zondo garden bestaan uit 'n lappie grond met ongeveer dertig plante. Hulle gaan verbasend goed aan op niks meer as tuisgemaakte kompos en af en toe 'n bietjie Seagro nie.

Natuurlik sal die korrekte proses vereis dat ek eers 'n paar plante in hierdie spesialis-grond plant, en hulle dan op verskillende stadiums met 'n klompie kontroles vergelyk, voordat ek dit as 'n onnodige luuksheid afmaak.

Maar op hierdie stadium is my vermoede dat daar geen ontwerpersmedium nodig is om hierdie onkruid te kweek nie.

Ek is nou nie sodanig van die whacky-tabbaccie oortuiging nie, maar groei wel 'n verskeidenheid chilli’s waar ek 'n spasiekie het… en al wat ek jou definitief kan sê is omtrent enige plant kan groei as jy hom “grond” van omtrent enige beskrywing gee, 'n bietjie water, son, en dalk 'n bietjie voedings aanvulling… is jy al 80% daar.

MAAR: Waar die verskil intree is as jy wil sakke oes in 'n jaar vs een of twee chillies. Die plant sal kwaai groei maar nie produseer nie, die groot verskil wat voeding maak is in hoe die goed blom en produseer. Plante wat “honger” is sal bloeisels maak maar hulle weer afgooi as hulle nie die nodige voeding het nie.

Nou, ek sal byvoeg, die gemiddelde dagga plant, alleengelaat langs 'n hoofweg, behoort meer te produseer as wat enige normale grootmens kan rook in 'n jaar. Maar, jy weet, party mense het dalk 'n probléém. Tensy jy dalk met jou vriende wil deel vir … uh… wedersydse belange … gaan DERTIG plante sweerliks overkill wees vir 'n army. Dalk meer as wat mens sal kan verdedig in 'n hof… ahem

Die grond ding: Ek sal wet dis dieselfde goed wat hulle verkoop aan tamatie boere, 10/1 'n foefie. As mens rerig wil, koop die sak tamatie mix langsaan vir 1/10de van die prys.

My seun deel jou liefde vir chillies. Ons is alewig aan die toutrek vir noordliggende hot-spots in die winter: chilli vs bonsai. :smiley:

DERTIG plante sweerliks overkill wees vir 'n army
Ek moet seker byvoeg dat ek verwag dat ongeveer die helfte manlik gaan wees, en dus ongelukkig uitgetrek gaan word. Bloody Friar Gregor, hey.
Die grond ding: Ek sal wet dis dieselfde goed wat hulle verkoop aan tamatie boere, 10/1 'n foefie. As mens rerig wil, koop die sak tamatie mix langsaan vir 1/10de van die prys.
Presies ja. En hierdie tipe ding kan veralgemeen word tot etlike produkte in alle oorde. Die klant se impuls om "net die regte ding" te koop speel reg in die hande van die slim bemarker.

Dagga is ietwat van 'n onkruid - jy het meer van 'n probleem om hom uitgeroei te kry as om hom aan die groei te kry. :slight_smile:

Tja, né. Na al die jare, hoeveel miljoene gespandeer, hoeveel duisende lewens verwoes deur onnodige tronkstraf en kriminele rekord, hoeveel mense dood in dwelmoorloë - na al dit, blyk dit toe nou dat die beskawing toe after all nie ten einde kom as mense hul eie plantjies kan plant en geniet nie.

Maar kyk nou maar mooi hoe ons nié leer nie: volgende dingetjie wat bietjie publieke histerie veroorsaak (tabak, dalk? magic mushrooms? porno?) en dit word verbied en ons speel nog 'n rondte van beveg die duiwel.

Suiker, watch.