The Scary Curriculum

From Vrye Weekblad; I’ll repost the full text here. I get a message from the board software that the post is too long, so let me cut it in pieces:

Part 1:

Seksonderrig: Kom ons praat

Ware verhaal: ’n Graad 8-leerder raak swanger, maar sy weier volstrek om dit te glo. Haar kêrel, ’n matriekseun, belowe hy het “uitgetrek voordat hy gekom het” en sy vertrou dat hy die waarheid praat. Als is oraait en sy kan nie swanger wees nie. En só, sê ’n Kaapse onderwyser wat die storie deel, word die skoolmeisie ’n slagoffer van onkunde, skryf ROZANNE ELS.

IN 1991 reik die Amerikaanse treffergroep Salt-N-Pepa een van hul grootste treffers uit: “Let’s Talk about Sex”. Byna 30 jaar later weerspieël die lirieke – ’n geweldige catchy pleidooi om openhartig oor seks te praat – ’n deel van die Suid-Afrikaanse departement van basiese onderwys (DBO) se dagtaak om jong mense prontuit oor seks en seksualiteit in te lig.

Let’s talk about sex for now

To the people at home or in the crowd

It keeps coming up anyhow

Don’t be coy, avoid, or make void the topic

Cause that ain’t gonna stop it

Andersyds weerspieël die lirieke ook verset – om welke rede en vanuit talle oorde teen so ’n gesprek - maar dié weerstand het verander soos nuwe generasiekonflikte in die samelewing uitspeel.

Die destydse besware teen gesprekke in die breë oor seks met kinders en tieners het ten dele plek gemaak vir meer genuanseerde twispunte. Die “coy and avoid” soos Salt-N-Pepa dit stel, boer nou in die “hoe, waar, wanneer en met wie” dié onontkomelike gesprek plaasvind voort.

Die rusie wat tussen die DBO en belangegroepe soos die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) einde 2019 ontstaan het, is nóg ’n verwerping van die DBO se omvattende seksualiteitsonderrig-leerplan (CSE), nóg ’n verwerping van skole se verpligting om dié mandaat uit te voer.

Die ongelukkigheid is nader aan die oppervlak: Hier gaan dit oor die DBO se pogings om met voorgeskrewe lesplanne, leerderboeke, voorgeskrewe assessering en plakkate die hoe, waar en wanneer vir onderwysers voor te skryf, sê Chris Klopper, die SAOU se uitvoerende hoof.

Maar ná maande se redekawel oor dié aangepaste leermateriaal vir seksualiteitsonderrig in skole, gee die DBO verlede week bes: Onderwysers sal nie gedwing word om dié veelbesproke lesplanne en leerderboeke in die klaskamer te gebruik nie.

Hoewel die seksvoorligting-leerplan steeds uitgevoer moet word – oor seks en seksualiteit móét die kinders leer, is die meerderheid van die onderskeie rolspelers dit eens – is onderwysers nou bemagtig om self oor die materiaal vir die klaskamer te besluit.

Dié verwikkeling volg na afloop van ’n reeks konsultasiegesprekke met geloofs- en tradisionele leiers, beheerliggaamorganisasies, die SAOU, asook ander belangegroepe. Die onderskraging van onderwysers se diskresie stel egter ’n taai tameletjie oor seks in die geheel bloot: vooroordeel.

Die kritiek van die breër publiek teen die DBO rakende die aangepaste seksualiteitsonderrig-lesplanne is ongelukkig vol feitefoute, lui dit herhaaldelik in mediaverklarings vanaf die departement.

Die DBO plaas die oorsprong van die waninligting voor die Sunday Times se deur, en volgens die departement is die regstel hiervan ’n naas-onbegonne taak. Die koerant se artikel “Grade 4s to Learn About Masturbation in New Life Orientation Curriculum”, gepubliseer op 12 Mei verlede jaar, is ten sterkste deur die departement veroordeel.

Anders as wat in die artikel gemeld is, word masturbasie nie in die Graad 4-lesplanne behandel nie, en is die materiaal saamgestel om ouderdomsgeskik te wees, aldus die DBO.

Uit dié artikel het verwardheid en “massahisterie” onder die publiek ontstaan en tot nog meer fopnuus gelei soos rondte na rondte van die kinderspeletjie Telefoontjie op sosiale media uitgespeel het.

Nee, die plan seksualiseer nie kinders nie. Nee, dit lei nie tot meer seksuele aktiwiteit onder skoolkinders nie. So ook nie tot meer waaghalsige gedrag nie.

Hierdie stellings grond die DBO op ’n evaluering van die Internasionale Tegniese Riglyne oor Seksonderrig in 2016, skryf die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, in ’n geskrewe antwoord op ’n brief van die Family Policy Institute einde verlede jaar.

In die brief spreek die instituut hul ongelukkigheid uit oor onder meer lesplanne wat ’n kind se reg om te besluit wanneer en met wie hulle seks wil hê, bevorder – eerder as om onthouding te predik.

Part 2:

Wat gaan ons vir die kinders sê?
“Wat gaan ons vir ons kinders sê? ‘Julle mag nie seks hê nie?’ En dan gaan hulle stop en nooit weer seks hê nie? Moenie naïef wees nie.”

Dis weer die Kaapse juffrou wat praat. Sy gee klas by ’n vooraanstaande, voorstedelike skool en vertel oor haar grootwordjare in ’n konserwatiewe, gelowige, Afrikaanse huis. Sy is ’n voorstander van onthouding tot die huwelik en erken dat in die jare voordat sy getrou het, sy effens ongemaklik was wanneer sy seksvoorligting gegee het.

Sy het egter, benadruk sy, nooit gevoel dat dit teen haar eie oortuigings en geloof indruis nie. Haar primêre rol as ’n onderwyser is tog om kinders te beskerm “en as dit vereis dat ons soms ’n kurrikulum moet aanbied wat ons uit ons gemaksones vat, dan moet ons dit doen. Dit is ons verantwoordelikheid.”

Hoewel sy dink dat seksvoorligting primêr by die huis moet plaasvind, spreek sy die realiteite – eerder as ’n gewenste ideaal – aan: “Ons bly ongelukkig in ’n land met baie gebroke gesinne en waar kinders aan die hoof van die huis staan, of plekke waar ouers self deur (seksuele) trauma is en dit nie met hul kinders wil bespreek nie.”

Dit val dus op skole om feite weer te gee eerder as om leerders “aan hul eie genade oor te laat” om antwoorde vir hul vrae en kommernisse te vind, hetsy by pelle, sosiale media, Google.

“As jy iets op Google intik, gaan jy op baie erger goed afkom as enigiets wat in die CSE is. Ouers onderskat beslis wat hul kinders weet en doen, en dis ’n gebrek aan kennis wat hulle in moeilike situasies plaas. Ouers wat dink dit is nie in hul (kinders) se verwysingsraamwerk nie, is doodeenvoudig naïef.”

Dié juffrou het self twee jong kinders en meen dit is belangrik om hulle op ’n vroeë ouderdom bloot te stel aan onder meer die regte benaming van liggaamsdele. Jy seksualiseer nie kinders só nie, “jy voed hulle op oor hoe om verantwoordelike keuses te maak en te besef wat langtermyn-implikasies is. Dat ’n besluit wat hulle op 10, 11, 12 maak ’n invloed het op 15, 16, 17.”

Seksvoorligting is sedert 1994 verpligtend as deel van die vak lewensoriëntering, en die huidige leerplan, CSE, is reeds sedert 2000 in gebruik.

Ten spyte van die vredeskeurings tussen die belangegroepe, is daar wel allerbelangrike punte waaroor hulle saamstem: dat weerlose kinders teen seksuele uitbuiting beskerm moet word, dat die hoë voorkoms van tienerswangerskappe aandag moet kry en dat leerders bemagtig moet word om ingeligte besluite te neem.

“Ons verstaan ten volle die realiteite. In sekere gemeenskappe is daar ’n groot persentasie van enkelouers, leerders wat aan die hoof van die huishouding is, tienerswangerskappe en die probleem van seksuele eksploitering van kinders…ons stem 100% saam dat daai goed aandag moet kry, maar ons sê net dit kan nie 'n sogenaamde one size fits all-benadering wees vir alle gemeenskappe nie,” sê Klopper.

Soos met Afrikaans en ander skoolvakke wil hulle toesien dat daar meer as een “handboek” is, meer as net een stel lesplanne, om die voorgeskrewe leerplan aan te bied.

‘Sê die S-woord en mense val van stoele’
“Gemeenskappe het verskillende benaderings. Party ouens het ’n baie oop benadering oor die goed, want hulle hou daarvan om daaroor te praat en dit is nie ’n probleem vir hulle nie. Ander ouens…as jy die S-woord sê, val almal van die stoele af. Jy moet sensitief wees daarvoor.”

Hier, sê hy, handel dit ook oor wat “gepas” is ten opsigte van ouderdom en waardes, asook tradisionele, kulturele en geloofspraktyke. Nadat onderwysers van die aangepaste leermateriaal te hore gekom het, sê Klopper, was daar van hul lede wat ondubbelsinnig gesê het dit staan hulle nie aan.

“As dit so op hulle afgedwing word,” het hulle hom meegedeel, “gaan daar moeilikheid ontstaan.”

Dan kyk ’n mens na die syfers. Deur die loop van die afgelope paar maande se heen-en-weer-twisgeskrifte is kommerwekkende statistieke aangehaal.

Tussen April 2017 en Maart 2018 het 2,716 tienermeisies in die ouderdomsgroep van 10 tot 14 jaar oud geboorte geskenk. Onder tieners van 15 tot 19 jaar oud was die syfer aansienlik hoër: 113,700. In 2017 was die getal selfs hoër vir tieners in dié ouderdomsgroep: 119,645 tieners het ma geword.

Met sulke syfers is dit noodsaaklik vir die staat om in te gryp, klink dit vanuit die DBO se geledere.

Verlede week se samesprekings was noodsaaklik om klaarheid onder die verskeie rolspelers daar te stel, sê die DBO.

Die uitnodiging na die sessies meld die blywende impak van apartheid soos vergestalt in konserwatiewe houdings, kulturele hindernisse asook gevolge soos die afwesigheid van ’n vadersfiguur en die ontwrigting van families soos hulle uitmekaar geskeur is.

Die impak van apartheid is blywend en verhinder “oop gesprekke oor seks en seksualiteit”. Juis daarom is die departement genoodsaak om die inhoud van die lesplan te versterk, lui die dokument.

Klopper verwerp die departement se volgehoue aanspraak dat ’n konsultasieproses gevolg is om rolspelers te betrek. Volgens hom kon hierdie herrie verhoed gewees het, mits alle partye in die saak geken is.

Ná afloop van hul ontmoeting met die DBO verlede week het die SAOU laat hoor dat hoewel hulle deel van alle konsultasieprosesse met die DBO vorm, “kan (ons) nie ’n proses van ‘kosmetiese konsultasie’ ondersteun waar ’n proses reeds uitgerol is en nou moet goedkeuring van aandeelhouers ná die feit bekom word nie".

Tydens die vergaderings met die verskillende aandeelhouers het die DBO bevestig dat hulle loodsskole graag wil aanmoedig om die lesplanne en materiaal te gebruik, maar dat dit nie afgedwing kan word nie.

“Skole moet steeds die inhoud soos in die kurrikulum onderrig, maar kan nie verplig word om die lesplanne, leerderboeke, voorgeskrewe assessering of plakkate te gebruik nie.”

’n Finale weergawe van opgedateerde leermateriaal sal na verneem word binnekort aan aandeelhouers beskikbaar gestel word.

’n Paar verse later in Salt-N-Pepa se bekende treffer lig hulle ’n kernaspek van die debat uit.

Let’s tell it how it is, and how it could be

How it was, and of course, how it should be

Those who think it’s dirty have a choice

Daar skort iets baie belangrik in die debat: Geen woord oor of kinders met keuses bemagtig gaan word as onderwysers se diskresie teen hul oortuigings indruis nie.

Dit is onbekend of leerders as aandeelhouers behoorlik in die saak geken gaan word en of diegene wat met die DBO saamstem dieselfde bemagtiging gaan geniet as “those who think it’s dirty” – diegene wat die materiaal as onvanpas sien.

  • Die departement van basiese onderwys is telkemale via selfoon, e-pos en WhatsApp-boodskappe vir inligting en kommentaar genader, maar geen terugvoering is ontvang nie.

Comments: I did not realize just how catastrophic South Africa’s rate of teenage pregnancy is.

Another lesson to be learned (once again, as if we don’t all know it already): do not believe one single word of what gets reported in the “news” media.